09/07/2021
Media vrystelling
Vir onmiddellike publikasie 8 Julie 2021
SHIRAZ SA KONDIG 2021 SE SHIRAZ CHALLENGE KAMPIOENE AAN
Die uitblinkers van die 9de jaarlikse Shiraz Challenge is die afgelope week in die Paarl bekend gemaak. Die geleentheid, aangebied deur kultivarassosiasie Shiraz SA, moes a.g.v. die pandemie vanjaar weer die aanlynroete volg om die wenners aan te kondig.
Vinventions, internasionale voorsiener van sluitmiddels vir wynbottels, was die hoofborg.
Alom-bekende televisiepersoonlikheid, Marciel Hopkins, het die rol van seremoniemeester vervul en die aanlyn verrigtinge gelei. Karen Zoid, Suid-Afrika se eie rockster, liedjieskrywer en aanbieder van die televisieprogram Republiek van Zoid Afrika, was die eregas en is die taak opgelê om die wenners aan te kondig.
Die 12 Shiraz-wyne wat as 2021 se sterre aangewys is:
· Cederberg Shiraz 2018
· Driehoek Syrah 2019
· Koelfontein Shiraz 2019
· Landskroon Paul de Villiers Shiraz 2019
· Flagstone Dark Horse Shiraz 2017
· Neil Ellis Groenekloof Syrah 2019
· Glen Carlou Syrah 2019
· Rooiberg Winery Shiraz Reserve 2019
· Kleine Zalze Family Reserve Shiraz 2017
· Kleine Zalze Vineyard Selection Shiraz 2018
· Saronsberg Shiraz 2019
· Stellenbosch Vineyards Credo Shiraz 2018
Naaswenners in hierdie kategorie is:
Diemersdal Shiraz 2018, Fairview Beacon Shiraz 2016, Fairview Eenzaamheid Shiraz 2017, Lomond Cat’s Tail Shiraz 2019, Rainbow’s End Shiraz 2019, Spier Seaward Shiraz 2019, Villion Syrah 2019 en Wellington La Cave Shiraz 2018.
Sedert 2014 is Shiraz-versnitte by die kompetisie ingesluit en hierdie jaar het die kategorie ‘n merkbare styging in inskrywings getoon.
Shiraz-versnitte se 2021 wenners is:
· Anura SMG Reserve 2018
· KWV Roodeberg Dr Charles Niehaus 2018
· Stellenzicht Acheulean Red 2018
Aangekondig as naaswenners in hierdie kategorie was:
Alvi’s Drift Albertus Viljoen Bismarck 2019, Babylonstoren Babel 2019 and Flagstone Velvet 2017.
Shiraz Rosé wenner
Die kategorie vir Shiraz rosé is in 2020 vir die eerste keer toegevoeg tot die kompetisie. Daar was weer eens maar ‘n handjievol inskrywings en die drie finaliste was almal van die 2021 oesjaar.
Villion Family Wines se Rosa Rabbedoe Rosé 2021 het met die louere weggeloop. Lyngrove Collection Shiraz Rosé en Saronsberg Shiraz Rosé is as naaswenners aangewys is.
Nuwe borg
Lebone Paarl Labels, ‘n leier op die gebied van die nuutste tegnologie vir die druk van wynetikette, het navore getree as nuwe borg van die bottelseëls vir wenwyne. “Dit is vir Lebone Paarl Labels ‘n voorreg om deel te wees van hierdie spog-geleentheid en betrokke te wees by Shiraz SA. Ons hartlike gelukwense aan 2021 se wenners,” aldus Algemene Bestuurder, Henk Jacobs.
Beoordeling
Kaapse Wynmeester Dr Andy Roediger het vir die 9de keer die voorsitterstoel van die paneel beoordelaars ingeneem. Die span gesoute proëers wat hom bygestaan het, almal nuwelinge op die paneel vir 2021, was: Frans Smit (Spier Keldermeester), Elzette du Preez (Wynmaker en lid van die bestuurskomitee van Shiraz SA), Richard Kershaw (Britse Wynmeester en eienaar/wynmaker van Richard Kershaw Wines) en Paul Benadé (Kaapse Wynmeester).
Die proestelsel wat gevolg is, is een wat in samewerking met Stellenbosch Universiteit ontwikkel is en sedert 2018 geïmplimenteer word. Hierdie formaat skakel die bespreking van wyne uit en vereis dat elke beoordelaar die wyne in sy eie unieke volgorde proe.
Sagteware- en ondersteuningsverskaffer, Wine MS, wat reeds sedert die ontstaan van die Challenge in 2013 betrokke is, was weer op hul pos. Wine MS het hul nuut-ontwikkelde aanlyn toepassing vir proe en beoordeling van wyn, vir die eerste keer met groot welslae by die kompetisie aangewend. Gerekende ouditeursmaatskappy, Exceed Group het die proses vir beoordeling gemonitor en die uitslae gekontroleer om die geloofwaardigheid van die kompetisie te staaf.
Sameroeper en voorsitter van die proepaneel, Dr Andy Roediger, het die volgende te sê gehad: “Die gehalte van Shiraz-wyne verbeter jaar op jaar en dit maak dit uiters moeilik om wenners uit te sonder want daar is soveel uitstekende wyne wat in die boonste vlak meeding. ‘n Tendens wat hierdie jaar kop uitgesteek het, is wyne wat heelwat meer vruggedrewe is.
Die gevolg is dat daar ‘n duidelike onderskeiding van wyne van ou-wêreld- en ander lande was. Die kenmerkende kruidagtigheid van ou-wêreldwyne is dikwels oorskadu deur geurige aromas, maar met nog steeds ‘n stewige, volronde mondgevoel. Die spesery-karakter was beslis waarneembaar maar in my persoonlike opinie was daar minder van daardie peper ondertone. Laer alkoholvlakke het ook uitgestaan. Dus, om op te som, die styl van Shiraz-wyne wat ons nou sien, is wyne wat baie vroëer drinkbaar is as in die verlede.”
Nasionale Shiraz-dag aangekondig
Edmund Terblanche, Voorsitter van Shiraz SA, het tydens die aanlyn seremonie aangekondig dat Shiraz SA besluit het om 21 Augustus as nasionale Shiraz-dag aan te kondig. “Internasionale Shiraz-dag is 16 Februarie en dis ‘n datum wat gekies is vir die Noordelike halfrond se winter. Dis egter nie ideaal vir Suid-Afrika nie want Februarie is hoog somer. Augustus is die perfekte tyd vir Shiraz en dit sluit ook mooi aan by die jaarlikse Seven Days of Shiraz & Venison.”
Gevra hoekom die keuse op 21 Augustus geval het, was Terblanche se kommentaar: “Ons het intense navorsing gedoen rondom Bernard J Podlashuk wat geag word as die Vader van Suid-Afrikaanse Shiraz. Daar was egter bitter min inligting beskikbaar en met dit wat ons kon uitsnuffel, was 21 Augustus die beste opsie.”
Vir verdere inligting besoek www.ShirazSA.co.za.
Gesels saam en volg Shiraz SA op Twitter , Facebook (ShirazSouthAfrica) en Instagram .
EINDE/
VIR MEDIA NAVRAE: SANDRA LOTZ
082 924 7254
[email protected]