19/12/2025
WALTER HET JOU HULP NODIG
Ná hy sy hele familie verloor.
Dit is die Kersseisoen met duisende families wat oor die feestyd bymekaar gaan kom. Maar vir Walter is dit 'n gespook om sedert 2020 weer op sy voete te kom.
Heidelberg Times het Walter in die dorp teëgekom en met hom begin gesels. Hy is 'n gekwalifiseerde elektrisiën en nutsman en desperaat vir 'n goeie werk en standvastigheid in sy lewe.
Hy het vertel dat hy sy eie elektrisiteit onderneming saam met sy broer en pa bedryf het. Dit het goed gegaan, maar die noodlot het ingetree en sy pa en broer het gesterf. Hy het ook sy dogtertjie aan die dood afgestaan.
"Ek was verpletter en het die Here verkwalik. Ek was in 'n diep g*t en het na die drankbottel gegryp.
"Ek het verder in die g*t weggesak en my besigheid verloor. Ek het intussen my weë verander, na die Here teruggekeer en stap 'n pad met Hom. Ek glo Hy lei my na waar hy my wil hê.
"Toe ek in Heidelberg aangekom het, het dit verskriklik gereën en ek is na die polisiestasie om uit te vind, waar ek kon oornag. Hulle het my na Lesedi Community Centre verwys, waar ek 'n heenkome gevind het.
Ek is so dankbaar vir Jaco Kritzinger en sy span wat hulle oor desperate siele ontferm," het Walter gesê.
Heidelberg Times hoop dat ons gemeenskap soos altyd hul harte sal oopmaak en 'n medemens sal uithelp. Walter is 45 jaar oud en kan elektriese-, sweiswerk-, loodgieterswerk, installering van solar en nutsman werk doen. Hy het ook 'n lisensie en kan as drywer werk.
Indien jy vir Walter kan help, skakel hom by 078 075 8095.