09/12/2024
ROUXVILLE: ’n Verdagte is doodgeskiet en sy makkers in hegtenis geneem in verband met ’n plaasaanval in die Vrystaat waar tydens ’n man vermoor en sy vrou ontvoer is.
Die polisie is Sondag omstreeks 07:00 deurdie Rouxville-boerderygemeenskap oor ’n moontlike moord op ’n boer van die Goedemoed-omgewing ingelig.
“Met beamptes se aankoms op die toneel isdie 52-jarige boer se liggaam met ’nskietwond aan sy kop aangetref. Daar is later vasgestel dat sy vrou tydens die aanval ontvoer is,” het kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, gesê. ’n Voertuig is tydens die aanval gesteel en die polisie het dit tot ’n plaas in die Tierpoort-omgewing nagespoor. Die Bloemfontein-blitspatrollie het die voertuig opgespoor en die vrou van die aanvallers gered. Sy ontvang mediese behandeling.
’n Verdagte is deur die polisie geskiet en gewond. Hy is na ’n hospitaal geneem waar hy later dood is. Twee vroue en ’n man is ook in die voertuig gevind en vir ondervraging ingeneem. Die polisie het op vuurwapens beslag gelê.
“Ek wil alle rolspelers en die boerderygemeenskap bedank vir hul vinnige en doeltreffende bystand om die verdagtes aan te keer,” het lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, gesê. “Ek wil my innige meegevoel aan die familie met hul verlies betuig.” Volgens Motswenyane sal ’n span ervare speurders en kenners verseker dat die skuldiges aan die pen ry.