31/10/2016
Sanet Eigelaar, Koekedoor Top 3 deel haar Vonkelkoek met weskus-karamel en roosmarynspringmielies
Vonkelwynkoek
Bestanddele:
250g botter
250g botter
2 ¼ koppie suiker
4 eiers
250ml suurroom
5ml vanilla
3½ koppie koekmeel
5ml koeksoda
2,5ml bakpoeier
5ml sout
250ml vonkelwyn
Metode:
Voorverhit oond tot 180°C
Voer 4 X 15cm ronde panne met bakpapier of smeer met botter, strooi koekmeel liggies in die panne, skud oortollige meel uit.
Room botter en suiker tot romerig en liggeel in 'n mengbak met die spaanhegstuk.
Voeg eiers een op 'n slag by en meng goed na elke byvoeging.
Voeg suurroom en vanilla by en meng goed.
Sif meel, koeksoda, bakpoeier en sout in 'n apart bak.
Voeg gesifte bestandele in 3 dele by die mengsel, afwisselend met die vonkelwyn (begin en eindig met die droë bestanddele).
Verdeel beslag tussen die 4 voorbereide panne.
Bak vir 45 minute tot gaar en laat afkoel vir 10 minute en keer uit op 'n afkoelrak.
Roomkaasversiersel:
Bestanddele
250g botter
250g roomkaas
2 koppies versiersuiker
5ml vanilla
Metode:
Klits botter tot romerig en sag, Voeg roomkaas by en klits tot gemeng.
Voeg versiersuiker by, klits tot goed gemeng en roer vanilla by.
Gesoute Weskuskaramel:
Bestanddele
1 koppie suiker
90 g botter
125ml room
5ml soutvlokkies
Metode
Verhit suiker in 'n medium pot oor matige hitte, roer aanhoudend met 'n houtlepel of silikoonskraper. Die suiker maak klonte en begin verkleur
As al die suiker opgelos hét, voeg die botter by en roer tot al die botter gesmelt is. Voeg room stadig by terwyl jy roer en kook vir 1 minuut. Haal die sous van die hitte af en roer sout by.
Laat afkoel.
Die karamel kan gestoor word in 'n ligdigte houer in die yskas vir ±20 dae.
Maak dit 'n klein bietjie warm as jy dit wil gebruik. Veral lekker oor roomys of net so uit die pot
Roosmaryn-karamel springmielies:
Bestanddele
½ koppie springmielies
30ml olie
⅔ koppie suiker
½ koppie donker bruinsuiker
¼ koppie molasse
⅓ koppie vonkelwyn
5ml seesoutvlokkies
30 g botter
30ml vars opgekapte roosmaryn
Metode
�
Springmielies
Verhit olie in groot pot oor mediumhitte en voeg springmieliepitte by
Plaas deksel op pot tot al die mielies gespring is
Haal van hitte af en gooi springmielies in 'n groot skottel
Karamel
Voer 2 bakplate met bakpapier.
Kook suikers, melasse, vonkelwyn en sout in 'n medium pot op hoë hitte sonder deksel
Moenie roer nie.
Gee die pan n effense skud om alles te meng en kook tot 140°C op suikertermometer. Haal van hitte af en roer botter en roosmaryn in.
Gooi karamel oor springmielies en roer met houtlepel sodat elke pit met karamel bedruip is
Plaas springmielies op uitgevoerde bakplate en last effe afkoel.
Breek springmielies los van mekaar en bêre in ligdigte houer (sit 'n oop klein bakkie met rys in bak om te voorkom data springmielies klam raak).
Saamstel van koek
Sny die koeke se bokant af sodat al die koeklae ewe dik is. Smeer of spuit versiersel tussen die lae en plaas lae op mekaar. Smeer versiersel aan die kante met paletmes en skraap dit weer effens af. Spuit horinkies bo-op koek met ronde punt.
Bedruip koek met karamelsous en versier met springmielies, vars roosmaryn en seesoutvlokkies.