07/01/2025
FRANSJOHAN PRETORIUS | TWEEDEPRYSWENNER VAN DIE 2024 CHRIS BARNARD-PRYS
Fransjohan Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria. Hy het sy kwalifikasies aan die Universiteit van Pretoria, die Rijksuniversiteit van Leiden en die Universiteit van Suid-Afrika verwerf.
Hy is die skrywer en/of redakteur van agt boeke oor die Anglo-Boereoorlog. Hy het die Recht Malan-prys, die Ou Mutual-prys en die Rapportryersprys vir sy boek Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog ontvang. Die Engelse uitgawe, Life on commando during the Anglo-Boer War, was die naaswenner van die Sunday Times Alan Paton-toekenning. Hy het ook die Stalsprys vir geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Prestige-prys van die FAK, die Rapportryersprys en die Jan H. Marais-prys ontvang.
Hy is redakteur van Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag.
Hy was tussen 2005 en 2022 voor-sitter van die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Aka-demie vir Wetenskap en Kuns.
Hy is getroud met Laurette, buitengewone professor in rekenaarwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Hulle het drie kinders en vier kleinkinders.