20/06/2024
FORT KNOX
Deonette Haggard
Ná ‘n verrassingsinbraak in heldere daglig onlangs by ons buitekamer, is seunskind kwaaier as ‘n giftige slang. Onmiddellik tref hy reëlings met ons beskermingsdienste op die dorp en reël dat hulle ons huis in ‘n klein Fort Knox moet verander.
Skielik is die alarm wat ons het nou nie meer goed genoeg nie. Paniekknoppies kom in elke vertrek, “beams” (strale) reg rondom ons kaia. Daar waar die “beams” nie kan “beam” nie, kom elektriese skokgoed. Fort Knox in die kleine.
By die ware Fort Knox werk die veiligheidsmaatreëls so dat indien iemand wel sou inbreek en vorder tot in ‘n kluis, sal dit onmiddellik met water gevul word. Ek het navraag oor die waterapparaatjie gedoen, maar ongelukkig is dié opsie nog nie in ons land beskikbaar nie. Waar is die Suid-Afrikaanse Steve Jobse, Bill Gatese, Elon Musks tog om hul entrepeneuriële vaardighede aan die ontwikkeling van so ‘n waterapparaat te kan wy?
Dié ware Fort Knox is ondeurdringbaar, want dis op ‘n millitêre basis in Maine opgerig. Die $7 triljoen se goudstawe word deur mure van versterkte beton en ‘n bombestande dak bewaak. Een kluis se deur alleen weeg 20 ton en is ‘n halwe meter breed. Dit is bestand teen brandsnyers, bore en plofstowwe. Wie sien kans om daar in te breek? Wel, iemand het tog ‘n poging aangewend om daar te probeer inbreek. Ou Goldfinger, die “crook” van die James Bond-fliekreeks het verbluffende planne gehad soos onder andere ‘n chemiese gas, ‘n tydbom, ‘n helikopter en boonop vermomming ook. Ons weet hoe sy grootse poging toe skouspelagtig gefaal het.
Raar maar waar, in ons kaia is nie eens een ou blink stafie goud nie. Tog miskien ‘n krieseltjie hier en daar in ’n juweliersstukkie vasgevang. Maar dan is daar soveel ander skatte wat ‘n mens graag wil beveilig teen diewe. Kosbare erfstukke staan, hang en lê ons huis vol - met al die mooi herinneringe en stories wat om hulle geweef word. Verhale van pa’s en ma’s, oupa’s en ouma’s en oorgrootjies is pure goud. Waardevolle goud in ons harte en van onskatbare waarde.
En dan natuurlik, die heel belangrikste en waardevolste, al die asems in en om die huis. Lewende wesens, mens en dier, waarvan die waarde onmeetbaar is en selfs hoër geag word as al die goud in Fort Knox. My ouma het altyd gesê dat jy vir ‘n dief en ‘n moordenaar niks kan toesluit nie en hoe waar haar woorde is, sien en beleef ons elke dag – inbrake waar menselewens as minderwaardig en niks werd geag word. Daarom probeer almal maar hul eie Fort Knoxie bou. Probeer beskerm waar en hoe jy kan, want dit is belangrik dat ons saam met ons geliefdes in ‘n veilige hawe kan woon waar ons vir mekaar kan omgee en versorg. Kry ons dit in ons fortjies reg, sal ons fisiese, emosionele en geesteswelsyn in suiwer goud verander. Goud soos geluk en goeie gesondheid. Suiwer goud wat ons skatryk maak.
Tot op hede is ons Fortjie nog nie deur skelms, indringers of moordenaars betree nie. Daarvoor is ek diep dankbaar en ons gesinnetjie voel net so veilig soos die goudstawe in die regte, egte Fort Knox.
Daar is egter ander indringers waarmee ons nie rekening gehou het nie. Hulle het nou al by twee geleenthede daarin geslaag om al die voorsorgmaatreëls teen inbrake te omseil en ons huis gemaklik binnegedring. Paniekknoppies was nie nodig nie, want hierdie twee astrante duiwe het self weer hul pad na vryheid gevind.
*Deonette Haggard is 'n skrywer van Somerset-Oos.