30/04/2021
Om op 41-jarige ouderdom Grey kollege in Bloemfontein se hoof te word, is ‘n merkwaardige prestasie. Wie was hierdie merkwaardige man wat dit kon doen? Dit is ‘n man wat oral waar hy homself in die samelewing bevind het, respek afgedwing het, ‘n man wat net sowel ‘n staatsman van formaat kon wees, ‘n uitvoerende hoof van ‘n internasionale maatskappy. Hy het anders gekies. Hy is die man wat in die sestigerjare by Grey ‘n Wiskunde onderwyser word, ‘n seun daar uit die Oos-Vrystaat se wêreld en wat later, nadat hy by Grey as onderwyser weg is, op Winburg skoolhoof sou word. Vandaar loop sy pad na die Noord-Kaap in Kimberley waar hy by Diamantveld hoof word. “Maar my kop het Kaap toe gestaan”, het hy my vertel in ons gesprekke daar in Boersmastraat, waar hy my telkemale van sy wonderlike jare by Grey herinner het. “Net ‘n uur, Dok”, het meermale drie ure geword. Twee rondtes koffie. Dit was hier aan die einde van 1978, dat ‘n motor, met ‘n paar manne met ware Grey harte, vanuit Bloemfontein na Kimberley, gereis het om hom te laat afsien van sy Kaapse planne. En so eindig hy by Grey aan die begin van 1980. Die ure se gesels was gevul met wonderlike gesprekke, selfs van sy kinderdae op Marquard, en so het hy terselfdetyd jare se ervaring met my gedeel. Ons gesprekke het telkemale teruggegaan Grey toe, want dit was ‘n gemene deler – sy personeel, sy uitdagings, sy leierskap en dan ook vir wie hy so lief was, die Grey seuns. Dan sou hy baie keer die opmerking maak – “jy kan Grey se personeel vandag in totaliteit na ‘n ander skool stuur en ander mense bring, die seuns sal die plek aan die gang hou.” En is dit nie waar nie. In al my gesprekke met hom, het dit nooit oor Michau Heyns gegaan nie. Nooit sou hy oor sy suksesse praat nie, eerder oor daar waar hy tekortkominge gehad het, waar hy foute gemaak het en hoe hy daaruit geleer het. En elke keer as ek daar wegry, het ek besef, so praat ‘n man wat net die beste wou hê, daar waar hy homself bevind het. Hoewel hy later ‘n Proffesoraat by die UOVS aanvaar het, het ek altyd die voorreg gehad om hom Dok te noem.
Hy het geweet daar was ‘n tyd om te gaan, ook by Grey. As ek terugd**k aan sy vertrek by Grey, besef ek net die grasie waarmee hy daar weg is. “Legends”, soos ons maar onder die Grey seuns praat, los ‘n ‘legacy’ – dit staan daar, ja, daar êrens op die skoolgronde, maar jy sien dit nie. Dit is mos dit wat jy in jou hart van iemand bewaar. En as ek so aan Dok d**k vanoggend, dan besef ek daardie ‘legacy’ het oor die jare net groter geword – meer, want ek lees woorde en hoor goed soos “meesterlik”, “n tweede kans”, “was dit nie vir Dok Heyns nie”, “streng, maar regverdig”, “respek”, “man uit een stuk”, “grootste van die grotes”. En dan kom “gentleman”. En van al hierdie kwaliteite, glo ek Dok was tevrede om net die laaste een genoem te kon word.
Sal ek ooit vergeet hoe hy klasbesoeke tydens periodes gedoen het? Hy sou in die middel van ‘n periode in Flash Venter se klas instap, terwyl Flash besig was met ‘n wiskunde som. “Meneer Venter, ek sal voortgaan met die klas”, en dan sou hy die som klaarmaak asof hy gister nog Wiskunde gegee het. En hy sou vrae vir ons vra asof hy die kurrikulum nog uit sy kop ken. En so was ons op ons tone. Klasbesoek. Sal ek ooit vergeet hoe die manne die riemtelegram gestuur het van klas tot klas, “Heyns is op die stoepe”. Sal ek ooit vergeet hoe hy die vermoë gehad het om twee belhamels uit te haal en onmiddellik was daar orde. En saam met dit, in sy kantoor, hoe hy jou so agter jou nek gevat het, met so ‘n omgekeerde vat, drie presies op jou boude kon plant dat dit soos een streep gelyk het. Jy het geweet dit is drie, want die rottang se punt het hier om jou bobeen gekrul wat daar drie strepe gelaat het. En as jy uitstap en by die deur kom roep hy jou naam en jy kyk om, “sê groete vir jou pa en ma by die huis”. Sal ek ooit die pak van Ernie Crafford en Ruben Kruger vergeet - ses van die bestes, en Ernie my na die tyd in die koshuis bleek vertel: “Heyns kan bliksem”. Sal ek ooit vergeet hoe ek hom menige Saterdagaande toestemming gaan vra het of die koshuisseuns maar stad toe kon gaan, want daar was nie fliek by Oranje of Eunice nie. “23h00 is almal terug. Ek hoef julle nie te herinner julle is Grey seuns nie”.
Die moderne Grey, as ek dit enigsins kan waag om dit so te noem, behoort aan Michau Heyns. Die man wat primêr verantwoordelik was dat die skoolterrein ‘n gedaante ontwikkel soos ons dit vandag ken. Die koorfees se ontstaan in 1984, wat vandag die bekende Grey Musiekfees is, is sy breinkind. Ek gaan myself vir ‘n oomblik hier in die rede val. In 2019 vlieg my ma vanuit die Kaap om die Musiekfees by te woon. My seun, toe in graad 11 was deel daarvan. Pouse stap Dok by my Ma verby, steek vas, twyfel so oomblik, sê vir haar hy ken haar maar kan nie haar naam onthou nie – die volgende oomblik sê hy vir haar, “jy is Adrie Hechter se ma”. Twee en dertig jaar later – merkwaardig nè. Ek kan voortgaan en menige van sy prestasies neerpen, maar dit was nie Dok nie.
Vir mevrou Heyns [ek sukkel steeds om tannie Rita te sê], Geofrè en Garetha, julle gesinne, ek dank ons Skepper vir elke tree wat Dok op Grey se gronde kon gee. Ek d**k ek praat namens baie Grey seuns, in ons oë is hy een van die grootste Old Greys. Dankie vir julle opofferinge, baie keer ter wille van Grey.
“Daar gaan ‘n man verby…..hou hom maar dop, fier en regop, baadjie toegeknoop…….netjies, hou hom weer dop, eerlik, reguit, enig in sy soort, glo my, daar was maar net een soos hy.”
Adrie Hechter